Voorwoord

Me T Mc Geer

Een van die aangrypendste uitsprake wat Jesus tydens sy verblyf op die aarde gemaak het, kom na vore in Mattheüs 18 “…maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.” Hierdie plaas ‘n groot Godgegewe taak op ons as personeel om leerders te onderrig, op te voed en te vorm soos wat God van ons verwag. Dié verwagting word reeds vanaf 1937 by die Hoërskool Bellville aan voldoen en so groei ons skool vanuit ‘n nederige begin tot een van die grootste Afrikaans-medium skole, met die mooiste skoolgebou in die Wes-Kaap. En… dit alles gebou op die vaste waardes van menswaardigheid, diensbaarheid, integriteit en uitnemendheid.

By Hoërskool Bellville is dit belangrik om die voorgeskrewe departementele riglyne te volg in die onderrig van elke leerder in die skool. Binne die riglyne is ondersteuning egter ook belangrik, sodat elke leerder se potensiaal so ontwikkel word, dat hy of sy vorm tot die beste weergawe van homself of haarself.

Dit kan net plaasvind vanuit die besef dat hier die grondslag vir elke leerder se toekoms gelê word. Akademiesie onderrig kry dus altyd die voorkeur, maar dit bly net so belangrik om gebalanseerde mense te vorm. Daarom ook die grootskaalse buite-kurrikulêre kurrikulum wat onder andere insluit koor, orkes, toneel, redaksie, redenaars, musiek, teater en debat. Die kurrikulum word nog meer uitgebrei met die aanbieding van bv. atletiek, landloop, rugby, netbal, hokkie, tennis, bergfiets, boogskiet, toutrek, krieket, gholf, skaak en selfs perdry.

Effektiewe leer en opvoeding vind by die Hoërskool Bellville plaas wanneer alle partye betrokke onverskrokke werk omdat hul bereid is om enige uitdaging aan te vat, op te los en as beter mens daaruit na vore te tree.

Mag elkeen van ons so saamwerk dat ons skool, ons leerders, ons gemeenskap daagliks deur ons optrede gedien word.

PARATUS AD OMNIA.
Me Thea Mc Geer
Skoolhoof