Skool Identiteit

Missie & Visie

Die Skoollied

Die skoollied is reeds in 1937 verwerk en getoonset deur mnr D.H. Cilliers.

Waar Tafelberg sy skadu’s werp van kruine groots en skerp,
Aan Kaapse Vlak se noordergrens – die vrug van hartewens –
pryk stewig soos ‘n vaste rots ons Alma Mater trots,
Waar opgelei word in Sy krag die jeug vir nageslag.
Koor: Die Bellville Hoërskool wil trag
Met woord en daad en in gedrag
By werk en spel van dag tot dag
Sy plig te doen met ‘n vrolik’ lag,
Sy plig te doen met al sy mag.

(Daar is ook ‘n tweede en derde vers.)

Die Skoolwapen en Skoolkleure

1937 – 1966

Kort na die stigting van die skool in Januarie 1937 is daar gevoel dat alle middels aangewend moet word om so gou moontlik ‘n eenheids- en samehorigheidsgevoel by die leerlinge te kweek en derhalwe is ‘n kompetisie uitgeskryf om vir die skool ‘n wapen te ontwerp. Die ontwerp van ‘n st. 7-leerling, André Coetsee, is as die geskikste beoordeel en dit het met ‘n paar klein veranderinge die wapen van die skool geword. Die simboliese betekenis van die ontwerp is deur dieselfde leerling min of meer soos volg verklaar: Die anker waarop die wapen rus, is die simbool van kragtige standvastigheid, maar ook die goeie hoop wat gekoester word vir die heilsame en nuttige invloed wat van die skool moet uitgaan.

Die geslote boek stel voor die kennis wat nie maklik of sonder inspanning verkry kan word nie en die lamp met die ligstrale in alle rigtings, vertolk ‘n tweeledige doel:

Eerstens, die lig wat leerlinge op skool moet ontvang om kennis uit die geslote boek te put en tweedens, die beskawende en verfynende gees wat van die leerlinge moet uitgaan nadat hulle die skool verlaat het om hulle regmatige plekke in die samelewing te vervul.
Omdat dit moeilik was om ‘n tweetalige leuse op die ontwerp in te pas, is ‘n enkele Latynse slagspreuk gekies: “Paratus ad Omnia”, wat beteken dat die leerlinge van hierdie skool altyd vir alle gebeurlikhede gereed is. “Omdat daar nie tyd was om voetbaljersies (rugbytruie) te laat bestel nie, moet ons dieselfde kleure as die van die Bellville Rugbyklub, aanvaar vir voetbal. Van hier was dit feitlik ‘n normale stappie om die vlootblou, donkerrooi en goud as skoolkleure te aanvaar.” (Uit die annale van die Hoërskool Bellville)

1967 – 1994

Na aanleiding van ‘n enkele inskrywing in die skoolkomitee-notule van 29 November 1962, word die versoek gerig dat die wapen heraldies geregistreer moet word. By ‘n latere geleentheid word terugvoering gegee dat die registrasie van die wapen vyftien pond sou kos. In 1967 maak die herontwerpte wapen sy verskyning op die kleurbaadjies van veral die nuwe leerlinge. Die vermoede bestaan dat die ou wapen nie as heraldies korrek aanvaar is nie en dat dit herontwerp is om by die heraldiese norme van die dag aan te pas. Behalwe dat die geslote boek nou oop is, die lampie bo die boek aangebring is, die skild met ‘n goue getande rand omboor is en die spreuk op ‘n losstaande lint onderaan geplaas is, word die oorspronklike simbole en simboliek net so behou.

1995 – 2023

Gedurende 1993 is daar by die Buro vir Heraldiek navraag gedoen of die skool se wapen wel geregistreer is. Die antwoord was negatief. Daar word amptelik aansoek gedoen om die wapen te geregistreer, maar die aansoek word van die hand gewys. Saam met die afkeur van die wapen sluit die Staatsheraldikus ‘n heraldies korrekte ontwerp in, sonder om die simboliek te verander.
Aanvanklik was dit vreemd, maar die nuwe ontwerp het gou ons harte gewen en binne ‘n paar weke is die nuwe ontwerp deur die leerlinge, personeel en die Beheerliggaam aanvaar. Amptelike aansoek is op 30 Maart 1994 vir die registrasie van die wapen gedoen.
Die wapen bestaan uit ‘n diepblou skild wat met ‘n getande goudrif omboor is. Die anker op die skild simboliseer kragtige standvastigheid, maar ook die goeie hoop wat gekoester word vir die heilsame en nuttige invloed wat van die skool moet uitgaan.

Die vlam het ‘n tweeledige doel:
Dit is eerstens die lig van kennis, waardes en norme wat die leerlinge op skool moet ontvang. Tweedens is dit die beskawende en verfynende gees wat van die leerlinge moet uitgaan nadat hulle die skool verlaat het om hulle regmatige plekke in die samelewing met verantwoordelikheid te vul. Die triquetra is ‘n opvoedkundige simbool, wat die drieledige verhouding tussen leerling, onderwyser en ouer simboliseer. Die skool se leuse “Paratus ad Omnia”, wat “gereed vir alle gebeurlikhede” beteken, is in goud op ‘n diepblou lint onder aan die wapen aangebring. Die wapen is op 25 November 1994 amptelik by die Buro vir Heraldiek, sertifikaatnommer 2737, geregistreer en op Maandag, 1 Augustus 1994 amptelike deur die onderhoofseun, Nico Bestbier, en die onderhoofmeisie, Petro Wipplinger, in die saal onthul. Die leerlinge het die wapen in Januarie 1995 in gebruik geneem.

Gedragskode en Dissipline

Die gedragskode vloei uit die missiestelling en waardes voort en vorm die agtergrond waarteen die reëls van die skool gesien en verstaan moet word. Dit dui aan wat elkeen mag doen, sodat ‘n veilige en geborge atmosfeer geskep word waar almal gelukkig kan wees en waar onderrig en opvoeding ongestoord kan voortgaan.

Ons gebruik ‘n puntestelsel waarvolgens ‘n leerder negatiewe punte ontvang vir oortredings wat begaan word. Die graad van die oortreding bepaal die aantal punte wat toegeken word. Indien ‘n leerder geen oortredings het nie, ontvang hy/sy ‘n waardetoekenning by die prysuitdeling.

Dissipline verwys na gehoorsaamheid aan gesag, wedersydse respek, ordelike gedrag en dus ook na die vrywillige nakoming van reëls en regulasies.
Dissipline en reëls beskerm ook die kind teen onredelike optrede teenoor en deur maats, sy/haar ouers en die personeel.
Klik asseblief op die skakel om die volledige gedragskode soos hersien in 2023, af te laai.

GEDRAGSKODE 2024

1995 – 2024: Voogdestelsel

Twee graadvoogde, ‘n man en ‘n dame, word by elke graadgroep aangestel. Dié twee persone tree soos hoofde in elke graadgroep op.

Die graadvoogde is verantwoordelik vir skakeling met leerders / ouers / voogde oor:

  • akademie
  • dissipline
  • ander toepaslike sake