Geskiedenis
Die skool se geskiedenis
Op 25 Januarie 1937 het die Hoërskool Bellville ‘n nederige begin gehad toe 25 leerders in grade 8 en 9 en twee onderwysers mekaar in ‘n saal naby die kruising van Durban- en Voortrekkerweg ontmoet het. Vanuit hierdie nederige begin het een van die grootste Afrikaansmediumskole, met die mooiste skoolgebou in die Wes-Kaap gegroei. In 2012 herdenk ons die 75ste bestaansjaar van hierdie grootse skool, waarvan ons deel is.
Nederig was die begin aan die kruising van Durban- en Voortrekkerweg in 1937. Drie jaar later (1940) is die eerste fase van die skoolgebou langs Voortrekkerweg deur die leerders en opvoeders betrek. Hierdie gebou het in ongeveer drie verdere fases groter geword totdat die saal in 1966 die laaste toevoeging tot die kompleks was.
Die Kaaplandse Departement van Onderwys het in 1956 die stuk grond aangekoop waarop die huidige sportgrond ontwikkel en skoolgebou opgerig is. Aanvanklik is opslaangeboue opgerig wat ‘n laerskool gehuisves het en nog later het dit die Alta du Toitsentrum geword. Dit het egter vervalle geraak en is deur ‘n groot dennebos omring. Die gedeelte noord van Ou Paarlweg en oos van Feinauerstraat, maar suid van die sitplek by die hokkieveld, is na ‘n gestoei met die Departement in die sportkompleks ontwikkel wat vandag gebruik word. In 1985 is dit in gebruik geneem.
Die ou skoolgebou langs Voortrekkerweg het met verloop van tyd ondoeltreffend geword. Dit het daartoe gelei dat ‘n nuwe gebou vir die Hoërskool Bellville in die dennebos noord van die hokkievelde opgerig moes word. Groot was die vreugde toe die leerders in Junie 1994 met banke in die hand die groot trek vanaf Voortrekkerweg na De la Hayelaan onderneem het. Die fisiese geriewe van die Hoërskool Bellville is in die proses gekonsolideer en dit is ‘n voorreg om dit elke dag te kan beleef en gebruik.
Skole is egter mense. Dit is leerders en opvoerders wat skole maak, nie geboue en terreine nie. Die Hoërskool Bellville was vanaf sy stigting ‘n dubbelmedium- skool. Soos wat die gemeenskap van Bellville gegroei het, het die behoefte aan nog hoërskole toegeneem. In die proses is DF Malan as Afrikaansmedium- in die middel vyftigerjare en The Settlers as Engelsmediumskool in 1965 ontwikkel. In 1968 het die laaste Engelssprekende leerders van die skool matriekeksamen afgelê waarna dit ‘n Afrikaansmedium skool geword het.
Sowat 14400 leerders het die afgelope 75 jaar as leerders van die Hoërskool Bellville, hul matriekeksamen afgelê. Akademies was daar uitstekende resultate, veral die afgelope 10 jaar. Die aantal leerders wat A’s behaal het, het jaar vir jaar gegroei en dit het ‘n hoogtepunt bereik met Jaanri Koch wat in 2005 die beste leerder in die land was, Simoné Gauche in 2006 en Alise Smit in 2022. Ons bring egter die grootste hulde aan elke leerder wat gedurende sy skoolloopbaan getrou en hard gewerk en akademiese suksesvol was.
Op kulturele terrein het die leerders van die Hoërskool Bellville ook hul kant gebring. Die prestasie van die koor wat aan internasionale kompetisies deelgeneem het en gewen het, het ons met trots gevul. Daar was die toneelkompetisies waaraan leerders deelgeneem en uitstekend gevaar het en die buitelandse toer wat onderneem is.
Ons dink aan individue wat vandag in die toneelwêreld hul merk gemaak het, persone soos Henry Milne, en Jan en Sherley Ellis. Ons dink ook aan die mooi prestasies in soveel olimpiades en kompetisies waaraan ons leerders deelgeneem het. Die jaarlikse puik prestasies van die Huishoudkunde-leerders staan in hierdie verband uit. Maar ons bring ook hulde aan diegene wat bloot deelgeneem het: die koor-, die orkeslid, die debatteerder en die toneelspeler wat ‘n klein rolletjie sonder woorde gehad het, maar daar was en trots was op sy rol.
Op sportterrein het ons die afgelope aantal jare puik prestasie gelewer. Dink aan krieket, aan rugby en ons oorheersing in atletiek in die beginjare van die MTBS en die pawiljoenbeker drie jaar agtereenvolgens. Die foto’s van die oudleerders wat die hoogste sport bereik het, pryk in die gange. Maar ook hier bring ons hulde aan die seuns en meisies wat die geleenthede aangegryp het om deel te neem, aan hulle wat eendag met trots aan hul kinders gaan vertel van hul span se goeie vertonings.
Te midde van al die prestasies van leerders en geleenthede wat vir leerders geskep is, was daar ‘n toegewyde, entoesiastiese en gemotiveerde opvoederskorps. Hulle wat as span onder die leiding van die sewe skoolhoofde net hul beste vir elke leerder en die skool as geheel gegee het.
Die volgende hoofde het die skool gedien:
Mnr C.J. Grové – Januarie 1937 tot Maart 1949
Mnr R. Coetzee – April 1949 tot Desember 1970
Mnr D.L. van den Berg – Januarie 1971 tot Desember 1973
Mnr G.F.P. Kellerman – Januarie 1974 tot Junie 1983
Mnr C.E. van Staden – Oktober 1983 tot September 1985
Mnr A.C. Lombard – Januarie 1986 tot September 1996
Mnr J.P. Crous – Januarie 1997 tot September 2010
Ons kan egter nie nalaat om hulde te bring aan ‘n ouerkorps wat hul kinders ondersteun en aangemoedig het nie. Ouers wat op vele terreine die skool bygestaan en help bou het. Maar in dieselfde asem moet die Onderwysdepartement bedank word vir die steun en leiding oor die afgelope 87 jaar.
Wanneer mens egter rustig nadink oor die afgelope 87 jaar, dan staan daar twee groot woorde oor die verlede van die Hoërskool Bellville geskryf, naamlik genade en dankbaarheid. Die genade van Ons Hemelse Vader in Jesus Christus wat sy hande elke dag seënend na ons uitsteek en ons dankbaarheid vir die seën wat Hy aan ons gee, omdat ons niks verdien het van die baie wat Hy aan ons gegee het nie. Mag ons in die volgende 87 jaar, met dankbaarheid, die genade van God ontvang.