Fasiliteite

Gimnasium

Hoërskool Bellville beskik oor een van die grootste en mees sportwetenskaplike gimnasiums in die Wes-Kaap. Ons gimnasium is toegerus met die nuutste oefentoerusting en word gedryf deur vier hoogs bekwame en gekwalifiseerde sportwetenskaplikes, asook ‘n biokinetikus. Ons toegewyde gimnasium-personeel ontwikkel oefen- en kondisioneringsprogramme vir al 15 sportkodes wat by ons skool beoefen word. Die gimnasium is daagliks voor en na skool beskikbaar vir alle sportkodes om sodoende te verseker dat daar aan alle leerders se oefendoelwitte omgesien word. Die ondersteuning en leiding van ons gimnasiumpersoneel verseker dat elke individu se vordering gemonitor word om sodoende hul prestasies te verbeter.

Mediasentrum

Een van die groot uitdagings van biblioteke in ons tyd is om ’n leeslus by leersders te kweek, want boeke moet met sosiale media, selfone en rekenaarspeletjies kompeteer. Die Mediasentrum poog om ‘n gebalanseerde versameling leesstof vir gereelde lesers en nie-lesers beskikbaar te stel.

Nuwe lekkerlees jeugboeke word gereeld deur die bibliotekaresse in die graad 8’s se Afrikaans- en Engels-klasse bemark.

Kreatiewe projekte word gebruik om leerders na die mediasentrum te lok. Tydens Wêreldboekedag trek leerders en onderwysers soos boekkarakters aan wat baie prettig is. Relevante uitstallings word gereeld gehou om leerders se belangstelling te prikkel, bv. onderwysers se gunstelingboeke is vertoon. ’n Moordraaisel in die mediasentrum moes al deur leerders ontrafel word. Tydens Boekeweek kry leerders en onderwysers die geleentheid om boeke aan die mediasentrum te skenk.

Rekenaars is in die Mediasentrum beskikbaar vir leerders om navorsing vir take te doen.

Akademiese Tuin

Hoërskool Bellville het sy 86ste verjaarsdag gevier en sy alumni wat doktorsgrade het vereer toe ‘n baie unieke Akademiese Gedenktuin by die skool geopen is.

Sowat 30 alumni, die skool se meer as 1 200 leerders en orkes het op Woensdag 25 Januarie die skool se verjaarsdag gevier en die opening van die eerste fase van die Akademiese Gedenktuin bygewoon. Die genooide eregaste het ingesluit oudleerders prof. Erwin Schwella, bekende in politieke kringe, en prof. Ronel Foster, bekende digter onder die naam Ronel de Goede en Bellville-hoofmeisie van 1966. Die ontslape dr. Dawie de Villiers, oud-Springbok rugbyspeler, voormalige SA-ambassadeur en hoofseun van 1958, se vrou Suzaan het namens hom die opening bygewoon. Mev. De Villiers was ook Hoërskool Bellville se hoofmeisie van 1957.

Die skool het besluit om nie sy alumni op die tradisionele wyse van foto’s op ‘n muur te vereer nie, maar eerder deur ‘n lewende monument in die buitelug van die skoolterrein op te rig. Op hierdie manier kan besoekers, ouers, leerders en alumni, wanneer hul op die skool se indrukwekkende skoolterrein rondbeweeg, deurentyd die wonder van uitnemendheid beleef.

“Die Hoërskool Bellville het ‘n visie gehad om aan sy akademies suksesvolle alumni se prestasies ‘n permanente staanplek op die skoolterrein te gee, sodat dit as aansporing kan dien vir vele geslagte van Bellville-Leeus wat nog hul skoolloopbane by die Hoërskool Bellville gaan voltooi” sê die skoolhoof, mnr. Deon du Plessis. “Hierdie visie moes egter in ‘n visuele model omgeskakel word en daarvoor het jy ‘n argitek van formaat nodig.” Oudleerder Johan Ras, wat in 2005 aan die Hoërskool Bellville gematrikuleer het, het die Akademiese Gedentuin vir die skool ontwerp.

Alle oudleerders wat doktorsgrade verwerf het, se name gaan op pilare aangebring word wat in ‘n sirkelformaat in die Akademiese Gedenktuin opgerig word. Daar sal ook ‘n QR-kode by elkeen se naam op die pilare wees wat jou na inligting van die oudleerder en sy proefskrif sal neem wanneer jy daarop klik. Tweedens sal die gebied ook dien as ‘n ontspanningsarea waar leerders tydens pouse en na skool kan kuier.

Die skool se Vlam van Herinnering is ook volgens tradisie as deel van die verjaardagvieringe aan die brand gesteek deur een van die onderwysers wat reeds 50 jaar in die onderwys is. Me. Maralyn Burger, wat Verbruikerstudie aanbied, het in 1973 begin skoolhou en 40 jaar gelede by die Hoërskool Bellville as onderwyser aangesluit.

Die projek om alumni se besonderhede en akademiese inligting vir die Akademiese Gedenktuin in te win, is reeds ‘n jaar gelede deur die skool begin. Die projek duur voort totdat alle oudleerders wat sedert die skool se ontstaan in 1937 hul doktorsgrade verwerf het, se name en inligting in die tuin geplaas is

Rekenaarsentrums

Hier is drie volledige rekenaarlaboratoriums in die skool waar RTT en IT aangebied word. Elke klas het 30 tot 35 rekenaars. Elke rekenaar is toegerus met Windows 10 en Office 2019. Die 2 RTT klasse het ook elkeen ‘n stel oorfone waarmee leerders die video’s kyk om die verskillende oefeninge te verduidelik.
Elke drie jaar word die rekenaars om die beurt vervang. Een klas per jaar.
In C8, die een rekenaarklas, is ook CAMI Wiskunde gelaai. Die Cami-leerders het in die middae daar klas.
E10 is die IT-klas – Delphi is daar gelaai. Daar word ook RTT aangebied.
RTT is nou ‘n baie gewilde vak – daar is VYF groepe vir graad 10, 11 en 12.

Laboratoriums

Hoërskool Bellville is baie bevoorreg om oor vyf goed toegeruste laboratoriums, waar leerders hulself in die Wetenskappe kan uitleef, te beskik. Daar is ‘n dataprojektor in elke laboratorium wat gebruik word om die leerders se kennisveld nog verder uit te bou. 
Onderwysers is trots om in ons laboratoriums te werk.

Musiekblok

Die Musiekblok is ‘n spesiale afdeling van die skool met uniek ingerigde klasse waar die onderrig in individuele musiekinstrumente plaasvind.

Dit is vernoem na Hennie Joubert. Hy het in 1943 aan Hoërskool Bellville gematrikuleer en was ook vanaf 1951 ‘n musiekonderwyser by ons skool. Hy was vanaf 1967 tot 1986 die direkteur van musiekeksamens by Unisa. In 1983 het hy ‘n ereprofessor by Unisa geword en ook sy eredoktorsgraad in 1986 ontvang.

So is vele musiek- en kultuur legendes deur Hoërskool Bellville. Die befaamde koorlegende, Hennie Loock, wat van 1972-2019 die Tygerberg kinderkoor afgerig het, is ook ‘n oudonderwyser van ons skool. Mnr. Pieter van der Westhuizen, ‘n oud musiekonderwyser (vroeë 1960’s) is ook by Stellenbosch Universiteit aangestel as orrel-dosent en naam gemaak as orrelis komponis en akademikus.

Die Leeukuil (Snoepie)

‘n Verskeidenheid heerlike en gesonde wegneemetes en ander eetgoed is beskikbaar voor skool, pouses en op sportmiddae. Kaart- en kontantfasiliteite is beskikbaar. Die snoepie se fasiliteite en binneruimte is einde 2021 opgegradeer.

Klubhuis / Verhurings

Beplan jy ‘n funksie? Laat die Hoërskool Bellville jou eerste keuse wees!

Hier by die Hoërskool Bellville beskik ons oor pragtige fasiliteite wat ons in staat stel om ‘n groot verskeidenheid funksies te behartig.
En nou stel ons hierdie fasiliteite aan die gemeenskap beskikbaar!
Of jy nou ‘n verjaarsdagpartytjie hou vir 50 gaste of ‘n dinee vir 200, ons het die fasiliteite om jou te akkomodeer. En boonop is ons pryse baie bekostigbaar!

Stuur enige navrae aan verhurings@hsbellville.co.za

Klerebank

Die Klerebank word bedryf op die perseel van die skool aan die linkerkant van die saal soos jy inkom by die skool.

Klerebanktye is weekliks op ‘n Maandag en Woensdag oop gedurende pouse en dan na skool tot 15:30. Addisionele tye word gereël vir spesiale geleenthede.

Kom besoek gerus ons goed georganiseerde Klerebank  waar u enige iets van 2de Handse skoolklere tot ons FLO Klere en ook van die meeste Sport Klere kan aankoop.

Ons sien uit daarna om ons ouers behulpsaam te kan wees.

Kontak klerebank@hsbellville.co.za vir enige navrae en om afsprake te maak