Netbal

Hoërskool Bellville is trots op ‘n ryke netbaltradisie. Jaarliks word tussen vier tot ses spanne per ouderdomsgroep in die CTHSN-liga ingeskryf. Die spanne speel deur die loop van die jaar in ‘n baie kompeterende Skole Super Liga. Vanaf die 2023-seisoen vorm Fast5 deel van hierdie liga.

Ons neem tydens die Maart/April-skoolvakansie met ons A-span-oefengroepe aan die jaarlikse

Paarl Gim Netbalfees in die Paarl deel. Die 1ste netbalspan het in 2024 deelgeneem aan die Paarl Girls Toernooi en ook ‘n toer na die Menlopark Netbaltoernooi onderneem.

Ons poog om aan ander toernooie/feeste  deel te neem om meer blootstelling aan die leerders te gee, naamlik. Margaret Pansegrouw Sportdag, Bosmansdam Sportdag (B-spanne), Stellenberg Sportdag (C-F spanne), Rhenish Toernooi en Porterville Toernooi. Ons seisoen is ook vol sportdae teen ander skole. Deur die jaar speel ons ook teen toerspanne van oorsee.

Met ons tien netbalbane is dit moontlik dat 26 spanne weekliks kan oefen. Die spanne het ook ‘n gimnasium vir kondisionering tot hul beskikking. Die netbalspanne word afgrig deur ‘n uitstekende, ervare en bekwame afrigterskorps. Die afrigterskorps bestaan uit ‘n universiteitsafrigter   wat op USSA- en Varsity Cup-vlak afrig, ‘n Tornado/Sting-speler, CT (WP) Federasie- en Skole-afrigters  asook CT (WP)-spelers.

Jaarliks spog Hoërskool Bellville met leerders wat verskeie CT (WP)- en Wes Kaap-spanne  verteenwoordig. In 2021 is ses spelers vir die CT (WP)-skolespanne   verkies. Twee o. 14-spelers het die geleentheid gekry om aan WK-proewe deel te neem. In 2022 is drie spelers gekies vir die CT (WP)-skolespanne, en 3 is gekies vir die WK-span. In 2023 is 6 spelers gekies vir die CT (WP)-skolespan en 5 vir die WK-spanne, Jacqueline Roux en Mareijka Swart is gekies om aan die SA o. 16-proewe deel te neem. In 2024 is 6 spelers gekies vir die CT (WP)-skolespan en 7 vir die WK-spanne, Emma Johnson is gekies om aan die SA o. 16-proewe deel te neem. Jacky Roux en Marjieka Swart is gekies om aan die SA o. 17-proewe deel te neem. Jacky Roux is ook gekies vir die SA o. 17 span wat teen Namibie gespeel het. Ons gee jaarliks erkenning aan CT (WP)-, WK- en Aksie-netbalspelers.

Die o. 14A-, o. 15A- en o. 17A-spanne asook die 1ste span het aan die WP- (CT-) Sekondêre Kompetisie (Topskole)  deelgeneem. Die o.15A-span het aan die WK-Sekondêre Kompetisie (Topskole) deelgeneem. Die CT- (WP-)skoleproewe   vind ook jaarliks by Hoërskool Bellville plaas. Hoërskool Bellville is tans 25ste op die SA School Sport-ranglys.

Organiseerder
Me J du Toit
jdutoit@hsbellville.co.za