Toneel
Dramakuns word by Hoërskool Bellville nie net as akademiese vak aangebied nie, maar is ook ‘n buitemuurse aktiwiteit. Ons neem aan kompetisies en eisteddfods deel en ons voer ook ‘n groot verskeidenheid produksies, soos kinderteater en musiekblyspele, op. Daar is nie net akteurs betrokke nie, maar ook regisseurs, dramaturge, beligting- en stelontwerpers, asook grimeerkunstenaars.
Die jaar het afgeskop met ‘n besoek by Boer Doep se plaas in die produksie Plaaskaskenades, ons jaarlikse kinderteater produksie, wat vanjaar opgedra was aan ons skoolhoof, meneer Du Plessis. Die kinderteater bied jaarliks vir leerders die geleentheid om hul plek onder die verhoogligte te vind.
Vanjaar was dit die eerste keer wat Hoërskool Bellville aan die Proscenium Toneelspelkompetisie in die Kunstekaap teater deelgeneem het.In hierdie kompetisie word leerders se teatervernuf behoorlik getoets en word daar van hulle verwag om hul staal te wys op die verhoog, radio en televisie.
Twee van ons leerders, Khian van der Boon en Anke Greeff was gekies om die skool by die finaal te verteenwoordig. Khian van der Boon was verder gekies om ook in die WKOD produksies te speel nada thy onder die Top-16 geeindig het.
Die derde kwartaal het afgeskop met die Playhouse Toneelfees in Somerset-Wes waar een van ons produksies ‘n algehele tweede plek behaal het. Die slegsleerder produksie het by hierdie fees as wenners weggestap. Ons is baie trots op elke deelnemer wat gewys het dat Bellville se toneel van top gehalte is. Keanté Korkie is as Beste Aktrise van die fees aangewys.
Die tweede fees waaraan Hoërskool Bellville se toneelgroepe deelgeneem het was die ATKV-Tienertoneel. By hierdie kompetisie moes ons omtrent veg want die kompetisie het byna verdubbel van die vorige fees af. Ons produksies behaal onderskeidelik brons, silwer en goud. Hanju Roets is by hierdie fees as beste klankoperateur van ‘n produksie aangwys. Die spelers Keanté Korkie en Qurin Janse van Rensburg is ook hier genomineer as beste akteur en aktrise vir hul spel. Dit is voorwaar ‘n prestasie om raak gesien te word in ‘n fees waar daar amper dertig produksies per streek deelneem.
Die laaste fees was die Hoërskool Durbanville Pronk Podium fees wat vanjaar ‘n nuwe kompetisie op Hoërskool Bellville se kerfstok is. Dit is ‘n eerste vir die Kaap en beloof om volgende jaar nog grootter te gaan.