Die seniororkes bestaan uit ongeveer 50 musikante waarvan die meeste onderrig by die skool se Musiekdepartement ontvang.

Die orkes, tans onder die leiding van Riaan van Wyk, het reeds vele prestasies, plaaslik en oorsee, behaal. Hulle het in 2015 die ope-afdeling van die SAMOV-Kampioenskap gewen en is die afgelope jare die kategoriewenners van hul afdeling by die Tygerberg Internasionale Eisteddfod.

Die gemeenskap word ook betrek deur buitespelers in sy midde te verwelkom en samewerking tussen skool-, musieksentrum-, universiteits- en professionele orkeste te bewerkstellig. Die jaarlikse hoogtepunte is die WindWorx Fanfare, Stellenbosch Band Extravaganza, Interskole- en Drieskole-konserte asook die Gala-aand wat met koor en gaskunstenaars gepaardgaan.

Die senior orkes het in 2024 sy 35ste bestaansjaar gevier. ‘n Feeskonsert het in die Hugo Lambrechts Musieksentrum plaasgevind en het die skoolkoor en junior orkes ingesluit. Soliste Nathan Huysamen, Theresa van der Merwe, Anette Cronje en Annerike Skinner was van die hoogtepunte van die geleentheid.

Die orkes reis ook van tyd tot tyd en konserttoere na Pretoria, Oudtshoorn, George, Plettenbergbaai en Mosselbaai is onderneem.

In 2026 beplan ons weer ’n toer na George om aan ’n nasionale kompetisie deel te neem.

Die jaarlikse WindWorx Fanfare was hierdie jaar by die Hoër Seunskool Wynberg gehou en beide die senior en junior orkeste het baie goed gevaar. Die orkeste het ‘n Diploma (trippel-goud) en Hoogste Lof (dubbel-goud) onderskeidelik verwerf.

Behalwe vir beoordeling, kry die orkes ook geleentheid om in die opelug amfiteater op te tree, asook by die aand se finale konsert waar ‘n massa-orkes van honderde spelers deelneem.

Die junior orkes, wat tans onder leiding van oudleerder Leandri Louw staan, is ‘n belangrike leerskool vir ons jong spelers om hul instrumentvaardighede in orkesverband te vestig. Dit is deel van die skool se orkesprogram om ‘n hoë standaard te handhaaf, maar ook ‘n genotvolle musiekomgewing te skep.

 

Organiseerder
Me M den Haan
mdenhaan@hsbellville.co.za