Operettes

Vallei van Konings

Om ’n musiekblyspel van formaat op die planke te bring, is nie ’n projek wat ligtelik aangepak kan word nie. Gevolglik is daar eers ná twee jaar se wik en weeg, besluit om in ons 85ste bestaansjaar ’n musiekblyspel aan te bied – die grootste een in ons geskiedenis! Elke vertoning was ’n reuse-sukses en ons gala-aand op 13 Augustus, wat deur talle spesiale gaste en hooggeplaastes bygewoon is, was ’n spoggeleentheid.  Die komplimente het vertoning na vertoning behoorlik ingestroom!

Geskiedenis

Hoërskool Bellville het ’n sterk dramageskiedenis en oor die afgelope 85 jaar was daar verskeie projekte. Die vroegste verwysing na operettes is in ons 50-jaar gedenkblad (1937 – 1977). Die volgende produksies is gedurende hierdie tydperk opgevoer: Hiawatha Die Ryk van Koning Njedel (1958), Tom Sawyer,  Anneke van die Kasteel, Lida en die liedjieskrywer (1960), Willemien (’n volksoperette) (1978), ’n Tikkie swier (’n kaberet), Waarheen? (1989) en 100 Years of Broadway (1995). Die mees onlangse musiekblyspelproduksies was The King and I in 1994 en Sound of Music in 1998.  The King and I is aangebied ter viering van die opening van ons huidige skoolgebou. Me. Boonzaaier, Mev. Stassen, Mev. Emery en Mev. Meyer, wat tans nog leerkragte by ons is, het deel gevorm van hierdie twee musiekblyspele se produksiespanne, en Mev. Lehani Nell was self deel van Sound of Music in die rol van ’n non.

Die proses

In September 2021 is die eerste vergadering gehou waarby die orkes-, koor- en dramapersoneel teenwoordig was. Uit ’n aantal opsies, is daar besluit op ’n bepaalde produksie. Ons moes egter die stuk moderniseer en sy naam is verander na “Vallei van Konings”:  Dit is ’n verhaal in drie bedrywe wat in moderne en antieke Egipte afspeel; dis ’n storie wat die verbeelding aangryp en die volle spektrum emosies by die gehoor wek.

Ná afloop van ’n bemarkingsveldtog, is oudisies in Oktober en November 2021 gehou. Daar was meer as 80 aansoeke vir ongeveer 20 hoofrolle! Ten einde ’n hoofrol te vertolk, moes ’n leerder toneel kon speel én sing, maar die regte kombinasies moes ook gevind word. In Desember 2021 is die tekste en note aan die soliste uitgedeel, sodat hulle dit kon begin leer, en die musiek, alhoewel reeds verwerk, is deur Olga Leonard vir ’n blaasorkes aangepas. In Januarie 2022 is daar onmiddellik twee maal per week met die soliste begin oefen, maar hul plasing is eers middel Mei voltooi. Hierna was dit die beurt van die kore wat tussendeur hul normale koorwerke ook dié van die musiekblyspel moes instudeer. Byspelers is ook intussen geïdentifiseer. Ook die orkes het in Mei, so tussendeur hulle baie vol program, aan al die musiekblyspelwerke begin oefen. Die uitbou van die verhoog het in Junie begin, en in die laaste week van die Junievakansie het die soliste, kore, byspelers en orkes, wat tot op daardie stadium op hulle eie geoefen het, vir die eerste keer saam begin oefen.

Agtergrond

Die gedagte van hierdie musiekblyspel het by mnr. Du Plessis ontstaan na aanleiding van ’n program op die National Geographic-kanaal wat gehandel het oor Kent Weeks se ongelooflike argeologiese ontdekkings (1995) in Egipte. In daardie selfde tyd het mnr. Du Plessis ook die boek Rivergod van Wilbur Smith gelees. Danksy sy twee ongelooflik passievolle vriende, Ina van Schalkwyk en Dirk Taljard, is sy konseptualisering van Ramses II in teks omskep. Hierdie storie is toe deur mnr. Du Plessis en Dramaonderwyser, mnr. Zerwick, aangepas om by die milieu van 2022 in te pas.

Organiseerder
Mnr W Zerwick
wzerwick@hsbellville.co.za