Dirigent: Mnr. Pieter Bezuidenhout
Begeleier: Mnr. Johan Swanepoel
Organiseerder: Mev. Liza Scott
Hulp-organiseerders: Mnr. Rossouw Wentzel en Me. Antonette Janse van Rensburg
Mnr. Pieter Bezuidenhout, wat sedert Januarie 2025 die koor dirigeer, is ‘n veelbekroonde komponis, koordirigent, instrumentalis en vervaardiger wie se musikale stem as werklik uniek en innoverend bekend staan (The Sunday Times). Veral in die wêreld van koor-, kamer- en teatermusiek, is sy werk al internasionaal gepubliseer en op vyf kontinente uitgevoer. Hy het al toekennings in komposisie ontvang van die European Academy of Choral Music asook die Stefans Grové-komposisietoekenning. Huidiglik is Hy die dirigent van drie kore in die Kaapstad metropool – HS Bellville, HS Jan van Riebeeck en die Stadskoor; – Choir, -iKwayara.
Hoërskool Bellville se gemengde koor het ‘n ryke koortradisie opgebou wat ook suksesvolle deelname aan kompetisies en eisteddfods insluit. Ons ontvang cum laude-toekennings tydens deelname aan die Stellenbosch, Helderberg en Cape Town Eisteddfods. Ons is ook al tydens die finaal van die Internasionale Tygerberg Eisteddfod en Cape Town Eisteddfod as algehele wenners van hul kategorie aangewys.
Ander hoogtepunte is die jaarlikse Hoërskool Bellville Koorfees in die Hugo Lambrechts Ouditorium, die Interskole-kultuuraand, die Drieskole-konsert saam met die Hoërskole Fairmont en Tygerberg, deelname aan ATKV Applous, die jaarlikse koorkamp en kerkoptredes. Optredes in die gemeenskap sowel as ‘n gala-konsert saam met die skool se simfoniese blaasorkes is gereeld op die koorkalender. Die koor beplan ook vanjaar van 8-10 Augustus ‘n verrykingstoer na George en Oudtshoorn, waar ons onder andere by die Hoërskool Outeniqua, die Klein Karoo Klassique, Die Outeniqua Gesinsmark en in die Kangogrotte gaan optree.
Tydens deelname aan die Wêreldkoorspele in 2018 is die gemengde koor as wenner van die ope-kategorie vir gemengde jeugkore aangewys. Die koorjaar van 2022 bereik ook ‘n besondere hoogtepunt met die aanbied van ‘n musiekblyspel “Vallei van Konings” in samewerking met die Hoërskool Bellville se simfoniese blaasorkes.