Gemengde Koor
Ons het ‘n ryke koortradisie opgebou wat ook suksesvolle deelname aan kompetisies en eisteddfods insluit. Die koor staan sedert 2011 onder leiding van Hannelize du Plessis en het tans 132 lede.
Hulle ontvang cum laude-toekennings tydens deelname aan die Stellenbosch, Helderberg en Cape Town Eisteddfods. Die Hoërskool Bellville se gemengde koor is ook al tydens die finaal van die Internasionale Tygerberg Eisteddfod en Cape Town Eisteddfod as algehele wenners van hul kategorie aangewys.
Ander hoogtepunte is die jaarlikse Hoërskool Bellville Koorfees in die Hugo Lambrechts Ouditorium, die Interskole-kultuuraand, Drieskole-konsert, die koorkamp en kerkoptredes. Optredes in die gemeenskap sowel as ‘n gala-konsert saam met die skool se simfoniese blaasorkes is gereeld op die koorkalender.
Die koor word begelei deur me. Annerike Skinner.
Tydens deelname aan die Wêreldkoorspele in 2018 is die gemengde koor as wenner van die ope-kategorie vir gemengde jeugkore aangewys. Die koorjaar van 2022 bereik ‘n hoogtepunt met die aanbied van ‘n musiekblyspel “Vallei van Konings” in samewerking met die Hoërskool Bellville se simfoniese blaasorkes.
Op Woensdag 8 Mei het die koor aan die uitdunrondte van die Tygerberg Eisteddfod deelgeneem en uitgestap met ‘n persentasie toekenning van 94,8%. Dit het tot gevolg gehad dat Hoërskool Bellville die enigste Gemengde Koor in die Wes-Kaap was wat deurgedring het na die finaal van hierdie kompetisie.
Die koor beleef ‘n baie opwindende afsluiting van die derde kwartaal met deelname aan die Cape Town Eisteddfod.
Hul verwerf ‘n DIPLOMA toekenning met ‘n punt van 97% tydens hierdie geleentheid.
Hoërskool Bellville se kooroptredes tydens die derde kwartaal word ook afgerond met ‘n fenominale optrede deur die koor in die Endler Ouditorium, Stellenbosch tydens die finaal van die Tygerberg Eisteddfod. Ons koor oortref alle grense van uitstekende koorsang en verwerf 90,3% vir hierdie optrede. Hul word ook tydens hierdie geleentheid aangewys as die wenners van die Kategorie vir Gemengde Kore.