Liefdadigheid
Leerderleiers
Die leerderleiers onderneem elke jaar verskeie projekte om die gemeenskap te dien. Die Wolprojek, waartydens ‘n groot hoeveelheid wol ingesamel en aan ouetehuise uitgedeel word, is baie suksesvol. Hulle samel ook noodsaaklike produkte in wat gedurende spesifieke projekte aan die gemeenskap uitgedeel word.
LEERDERLEIERPROJEKTE 2023/2024-TERMYN
Hierdie Leerderleiertermyn het reeds einde 2023 afgeskop, in die vierdie kwartaal.
Ons het besluit dat ons hierdie jaar wil fokus op die onderwysers se welstand en het elke maand, op die eerste dag van die maand, die onnies bederf met ‘n bybelversie en iets om aan te knibbel,
Ons het afgeskop met ‘n HERWINNINGSPROJEK, waar ons elke maand verskillende herwinbare produkte ingesamel het en dit gekoppel het aan ‘n “DOPPIES VIR WIELE-PROJEK”, waar ons plastiekdoppies ingesamel het en kon geld bydra om vir ‘n behoeftige pasiënt ‘n rolstoel te koop.
In kwartaal twee, het ons ‘n “VALENTYNSSOKKIE” aangebied, waar leerders in rooi, pienk en wit getooi, die dans kon bywoon. Hulle het omtrent gedans
Ons paaseierprojek was ook ‘n groot sukses en ons het hierdie jaar PETROLJOGGIES BEDERF met paaseiers. Verskeie petroljoggies, in ons nabye omgewing is verras met ‘n paaseier of twee.
‘n KRUIEPLANTPROJEK is ook geloods, waar ons saadjies en kruie-steggies ingesamel het, om vir die Verbruikerstudie-klasse te skenk. Deur kruie te kweek, wat hulle dan in hul gebak kon gebruik, kon hul dus geld spaar en deur nie die produkte aan te koop nie.
Ons MATRIEKAAND, was ‘n rasende sukses, waar ons leerders vermaak het, met verskeie speletjies, soos “ Wie is jou pasmaat?”en “Wie wil ‘n miljoenêr word?”.
Ons het besluit om ‘n SPELETJIESAAND soos van ouds te hou, waar leerders speletjies kon speel, soos “ Toets jou geheue.”, “Gooi die koppies om met ‘n bal.” en “Gooi die bal in die koppie.”
Ons het tesame met Curro Durbanville ‘n FONDSINSAMELING VIR DIE TWEE OSEANE AKWARIUM gehou, waar hul seeskilpaaie, wat se habitat verwoes is, rehabiliteer. Verskeie produkte en geld is ingesamel om van hierdie projek ‘n sukses te maak.
Oudergewoonte het ons weer ‘n “ HONDE EN KATKOSPROJEK” geloods, waar leerders geld en kos kon insamel vir die Grace Animal Sanctuary en Capetonians Against Animal Abuse. Hierdie troeteldiere se kos is verdeel en afgelaai by die verskeie organisasies en leerders kon ook met die diere speel.
Ons sluit die termyn af, met die jaarlikse Interskole “ MINI BRAG”, “INTERSKOLE GEESWEEK”, asook die “Big Brag” en versiering van die pawiljoene en lamppale om die skool.
Ek is besonder beïndruk met hierdie jaar se leiers. Hulle het hul uitstekend van hul taak gekwyt en hard gewerk om ons doelwitte te bereik. Ek sien uit na die 2024/2025 termyn en glo dit sal ook, soos hierdie jaar ‘n sukses wees.
Lehani Nell
Bloedskenk
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens besoek elke kwartaal die skool en gee aan kwalifiserende leerders die geleentheid om bloed te skenk en sodoende potensieel ‘n lewe te red. Die reaksie op hierdie geleenthede is baie goed en Hoërskool Bellville is aangewys as een van die Bloeddiens se mees suksesvolle skenkingslokale.
ATKV-Jeugtak: Vlam
Vlam is in Julie 2019 gestig onder leiding van me. McDonald (voogonderwyser).
Ons poog om vanuit die agtergrond ’n beskeie verskil in ons onmiddellike en wyer omgewing te maak op die volgende gebiede: Taal, Kunste, Onderwys en Gemeenskap.
Leerders van enige graad mag inskakel, dit word as ’n buitemuurse aktiwiteit erken en ’n bestuur word jaarliks verkies.
Ons ledetal groei elke jaar en daarmee saam ook die aard van ons projekte. Enkele voorbeelde van ons kwartaallikse projekte sluit in:
- Woord-van-die-Week: ’n Unieke of minder bekende Afrikaanse woord word vir plasing op Instagram geselekteer
- Fondsinsamelings vir ’n verskeidenheid omliggende organisasies
- Prettige geleenthede soos ’n informele debatsaand tussen leerders en onderwysers, en ’n boerie-eetkompetisie ter viering van Erfenisdag
As jy trots Afrikaans is en graag ’n verskil in jou skoolgemeenskap wil maak, kom sluit gerus by ons aan!