LEERDERLEIERS: LIEFDADIGHEID
Die leerderleiers bied jaarliks verskeie projekte aan wat in vier hooffokusareas verdeel word, naamlik die gemeenskap, ons skool, diere en seniorburgers. Hierdie projekte het ten doel om ’n positiewe bydrae te lewer en ondersteuning te bied waar dit die nodigste is. Om hierdie inisiatiewe suksesvol uit te voer, is ons egter afhanklik van die ondersteuning en vrygewigheid van die gemeenskap. Donasies speel ’n belangrike rol om die projekte te befonds en ’n werklike verskil te maak.
LEERDERLEIERPROJEKTE 2025/2026
Die leerderraad is reeds in Kwartaal 3, in 2025 verkies en het reeds in die vierde kwartaal ‘n projek aangepak.
KWARTAAL 4, 2025:
Die projekte wat reeds in Kwartaal 4 van 2025, asook Kwartaal 1 en 2 van 2026 aangepak is, sluit onder andere die GAAN GROEN-PROJEK in. Met hierdie projek is donasies ingesamel om ons skool se tuine te verbeter. Die inisiatief het besonder goed gevaar en danksy die gemeenskap se ondersteuning spog ons skool nou met kleurryke plante en pragtige blomme, wat ’n aangename en uitnodigende omgewing vir almal skep.
KWARTAAL 1, 2026:
Ons het Kwartaal 1 afgeskop met die MATRIEK-BEDERFPROJEK, waartydens ons die matrikulante op hul eerste dag van hul matriekjaar, asook hul laaste eerste dag van skool, spesiaal bederf het met ’n sjokolade, koeldrank en ‘n Bybelversie. Hierdie gebaar het bygedra tot ’n opgewonde en positiewe begin van hul finale skooljaar. Leerders het ook die geleentheid gehad om ’n sleutelhouer met die woorde “Matriek 2026” aan te koop, wat hulle aan hul tasse of selfs hul nuwe motorsleutels kan hang, as ’n blywende herinnering aan hierdie besondere jaar.
Ons het weer besluit om, soos in die verlede, elke maand ons ONDERWYSERS te bederf met ’n klein lekkerny en ’n bemoedigende Bybelvers. Hierdie gebaar dien as ’n teken van waardering vir hul harde werk en toewyding, en dra by tot ’n positiewe en ondersteunende skoolomgewing.
Matrieks het tydens ‘n pouse in Februarie, aan die SPOEDAFSPRAAK-PROJEK deelgeneem om mekaar beter te leer ken en moontlik ’n matriekafskeidmaat te ontmoet. Met Maart-manewales het die leerderleiers tydens pouses musiek gespeel en leerders geleer om lyn- en sokkiedanse te doen, wat bygedra het tot ’n lewendige en energieke atmosfeer.
‘n deurlopende projek is ons VRYDAG-VERKOPE, waar ons geld insamel om verskeie projekte te befonds.Op Vrydae is verskeie items, van pizzas tot ysies, verkoop, met die Valentynsverkope wat besonder suksesvol was en afgesluit is met ’n opwindende sokkiejol waar leerders hul dansvaardighede kon wys.
Ons seniorleiers het die skool met trots verteenwoordig by DIE PAUL ROOS-DINEE, waar hulle met leerders en leiers van omliggende skole regoor die provinsie geskakel het. Tydens die geleentheid is waardevolle bande gesmee en idees uitgeruil, wat leierskap, samewerking en wedersydse begrip tussen skole bevorder het. Hierdie ervaring het hul netwerk uitgebrei en die skool se positiewe beeld versterk.
Intussen is ’n grootskaalse PAPIER-HERWININGS-PROJEK geloods om papier te herwin en sodoende die skool en gemeenskap se groen voetspoor te verklein. Leerders en personeel het aktief deelgeneem, wat bewustheid oor omgewingsbewaring bevorder het. Die fondse wat uit die projek gegenereer is, is gebruik om die skool se tuine te verfraai met nuwe plante en potte, wat ’n meer aantreklike en volhoubare leeromgewing geskep het.
Die PAASEIERPROJEK het gefokus op die insameling van paaseiers vir omliggende aftreeoorde en hardwerkende petroljoggies in die gemeenskap, en het sodoende ’n gees van omgee en medemenslikheid bevorder. Hierdie inisiatief het die ware betekenis van Paasfees beklemtoon deurdat leerders die geleentheid gekry het om hul Christelike waardes prakties uit te leef deur te gee en ander se lewens te verryk. Die projek het nie net vreugde aan die ontvangers gebring nie, maar ook ’n blywende indruk op die leerders gemaak oor die waarde van diensbaarheid en die verskil wat klein gebare kan maak.
Laastens is Aardedag op 22 April gevier met die bekendstelling van die AARDEDAGPROJEK, waartydens blou strikkies verkoop is om fondse in te samel vir die Twee Oseane se waterskilpad-rehabilitasieprojek – ’n inisiatief wat help om hierdie spesies te beskerm en vir die toekoms te bewaar. Op 24 April het 30 leerderleiers die akwarium besoek om meer te leer oor waterskilpaaie en eerstehands te sien hoe die donasies, wat vir die rehabilitasieprogram ingesamel is, aangewend word. Die besoek het aan die leerders waardevolle insig gegee in die versorging en herstel van beseerde skilpaaie, asook die belangrikheid van bewaring en volhoubare praktyke. Hierdie ervaring het hul bewusmaking van mariene lewe verdiep en die impak van hul bydraes tasbaar gemaak.
Me L Nell
lnell@hsbellville.co.za
Mnr J Joubert
johanjoubert@hsbellville.co.za
Bloedskenk
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens besoek elke kwartaal die skool en gee aan kwalifiserende leerders die geleentheid om bloed te skenk en sodoende potensieel ‘n lewe te red. Die reaksie op hierdie geleenthede is baie goed en Hoërskool Bellville is aangewys as een van die Bloeddiens se mees suksesvolle skenkingslokale.
Me C Engelbrecht
cengelbrecht@hsbellville.co.za
ATKV-Jeugtak: Vlam
Vlam is in Julie 2019 gestig onder leiding van me. McDonald (voogonderwyser).
Ons poog om vanuit die agtergrond ’n beskeie verskil in ons onmiddellike en wyer omgewing te maak op die volgende gebiede: Taal, Kunste, Onderwys en Gemeenskap.
Leerders van enige graad mag inskakel, dit word as ’n buitemuurse aktiwiteit erken en ’n bestuur word jaarliks verkies.
Ons ledetal groei elke jaar en daarmee saam ook die aard van ons projekte. Enkele voorbeelde van ons kwartaallikse projekte sluit in:
- Woord-van-die-Week: ’n Unieke of minder bekende Afrikaanse woord word vir plasing op Instagram geselekteer
- Fondsinsamelings vir ’n verskeidenheid omliggende organisasies
- Prettige geleenthede soos ’n informele debatsaand tussen leerders en onderwysers, en ’n boerie-eetkompetisie ter viering van Erfenisdag
As jy trots Afrikaans is en graag ’n verskil in jou skoolgemeenskap wil maak, kom sluit gerus by ons aan!
Me C McDonald
cmcdonald@hsbellville.co.za